Merk van bome

Die eerste groep bome is van naamplaatjies voorsien om mense te help om die bome beter te leer ken. Daar is nie noodwendig net die mooiste en grootste van ‘n spesies gemerk nie, maar ook kleiner voorbeelde sodat na die blare, blomme, sade (as daar is) en ook die stamme gekyk kan word om dit te leer om dan later ander bome van die spesie self te kan identifiseer.

‘n Voorbeeld hiervan is om twee rosyntjie spesies wat meeste hier voorkom te vergelyk.

  1. Die vaalbosrosyntjie (Grewia monticola) ‘n struik of klein boom met iewat neerhangende take. Die blare is groen bo en grys onder (waar sy naam vandaan kom).
  2. Die skurweblaarrosyntjie (Grewia Flavescens) is meer ‘n struik / ranker. Sy stam is vier-hoekig, en sy blare is redelik skurf, vandaar die naam skurweblaarrosyntjie.

Waar dit moontlik was is twee spesies wat na aanmekaar staan gemerk om dit maliker te maak om hulle met mekaar te vergelyk.

Riglyne vir sirkel-tuine

Om meer betrokkenheid van inwoners te kry, is daar besluit om die instandhouding van die sirkel-tuine, uitsluitend die sirkel by die hoofingang, aan die inwoners oor te gee. Ko-ordineerders is geidentifiseer vir elke sirkel en vergaderings is gehou om die saak te bevorder. Aangesien daar binne die bestaande beleid en riglyne gewerk moet word, is ‘n dokument deur HEV uit gestuur om die rasionaal en riglyne te bevestig.  

Dendrologiese vereniging

Laventelkoorsbessie, smalblaarbotterlepelbos 

Het jy geweet hierdie twee bome groei by ons op Negester? 

Jy ken seker die huilbos, vaalbos (in die Bosveld het die 
ou mense dit nie “bome” – soos vandag – genoem nie) en die wildesering. Maar het jy al die rosyntjiebosse (vaal- en skurweblaar) gesien? Of die klip-els?

En die taaibosse? Het jy geweet dat die pragtige waterbergboswilg net in ’n baie beperkte gebied in die Waterberge voorkom? Ons is so gelukkig om ’n hele paar van hulle hier op Negester te hê.

Het jy geweet dat die krinkhout met sy liggrys stam en rooipers blommetjies deur die wet beskerm word? Hulle mag glad nie uitgehaal word nie. Hier staan ’n paar baie mooi voorbeelde van hulle by ons.

As jy belangstel om meer van die bome en plante in ons omgewing te weet, sluit gerus aan by die Waterbergtak van die Dendrologiese Vereniging. Hulle is baie aktief en gaan gereeld op uitstappies. 

As jy meer wil weet, gesels gerus met 
Johann Heydenrych, Wessel Joubert of Leonora Visagie.

Boombrokkies - Maart 2019

By Negester groei ’n paar bome wat nie groen blare het nie. Die vaalboom (Terminalia sericea) wat oral op die landgoed groei, is die bekendste. By die minigholfbaan groei heelwat basboontjies (Elephantor-rhiza burkei) wat hier by Negester besonder groot word. Op dieselfde kliprandjie kry ons ook die interessante stamvrug (Englerophytum magalismontanum), met sy plat blare en vrugte direk op die stam. Ons het ook heelwat blou ghwarries (Euclea crispa), wat graag op klipperige plekke groei. Dit is seker waarom hierdie Breëblaar Bosveldstreek waar ons woon, so mooi is.
Daar is soveel verskillende plante en bome!

Leonore Visagie

 

Plante en geure - April 2019

Wat ruik so lekker hier by ons in die veld? Dit kan die blink blare van die laventelboom (heteropyxis natalensis), of die blare van die laventelkoorsbessie (croton gratissimus) wees. Hierdie blare is blink en donkergroen bo, en onder silwerwit. Natuurlik is daar ook die pragtige wit blomme van die bosveldkatjiepiering (gardenia volkensii) in die lente. Die ranker, die sterretjiesjasmyn (jasminium multipartitum) kom ook hier by ons voor. 

Terloops, moenie hierdie klimop verwar met die “sterjasmyn” (trachelospermum jasminoides) wat van China afkomstig is, en wat algemeen by kwekerye te koop is nie. 

En wat ruik so sleg? Die vaalbome in die lente, natuurlik!

Leonore Visagie

Terug na “Plante”

Close Menu