Wat ’n voorreg en genade om hier in die Bosveld te kan aftree en die skoonheid van God se skepping elke dag te ervaar. Kom ons staan saam en wees daar vir mekaar in liefde. Ons kinders en familie is nie naby nie. Ons het mekaar nodig. Ons is op mekaar aangewese. Wanneer ons trauma of leed ervaar, het ons nodig om te weet dat ons hier mense het wat omgee vir mekaar en daar is om ons by te staan in liefde. Maak nie saak op watter manier nie! Miskien ’n bord kos wanneer siekte aan jou deur klop en jy nie tyd het om kos voor te berei nie, óf ’n oor om te luister as jy ’n geliefde verloor het, óf net ’n skouer om op te huil as jy verlang na jou geliefdes, óf geestelike ondersteuning. Miskien net ’n koppie tee saam met iemand te drink as jy alleen voel, óf by die dorp te kry as jy nie vervoer het nie. Daar is so baie maniere om mekaar by te staan! Ons kan op dieselfde manier dankbare mylpale in ons lewe deel. Bv. 50 jaar getroud, nuwe kleinkinders, agterkleinkinders, ens.
Ons almal het gawes van die Here gekry. Wat ookal jou gawe, of dit nou is om kos te voorsien, net te luister, siekes te besoek, te kuier, raad te gee, wat ookal, jy is nodig vir Negester se inwoners. Ons moet omsien na ons onmiddellike bure. As daar nood is, gee dit dan deur na enige een van ons hieronder genoem en ons sal dit dan weer deurgee aan die nodige persone – maar nou het ons natuurlik mense nodig wat kan help en wil graag name hê wat ons met hierdie liefdestaak kan help.
Skakel my, Annetjie Meets, as jy graag wil help sodat ek ’n databank kan opbou van gewillige persone wat sal help.




