Die totstandkoming en ontwikkeling van ‘n landgoed soos Negester Klein-Kariba behels, onder andere, ‘n magdom van inligting wat deur inwoners benodig en gebruik word. Baie van die inligting is van eenmalige belang soos byvoorbeeld hoe om waterlesings te neem, terwyl ander inligting deurgaans gebruik word.

Die uitdaging is om relevante, tydige and akkurate inligting aan al die inwoners beskikbaar te stel, en hoe meer die mense, hoe groter die uitdaging as gevolg van die toename in aktiwiteite en gebeurtenisse op die landgoed.

Terwyl kommunikasiemedia soos WhatsApp boodskappe relatief effektief werk, is dit beperk tot mense wat aan die spesifieke groep behoort. Mense wat byvoorbeeld nie deel van die Kampeerklub Whatsappgroep is nie, sal nie boodskappe met betrekking to die aktiwiteite van die kampeerklub ontvang nie.

Daar is tans heelwat inligting beskikbaar vir die inwoners van Negester maar die inligting is versprei en nie noodwendig op papier nie. Dit maak dit moeilik om seker te maak dat inligting aan al die inwoners deurgegee word en dat die inligting op datum is.

Die huidige toestand van sake skep ongelukkig die indruk dat die kommunikasie by Negester swak is. Om dit aan te spreek is besluit om ‘n webtuiste vir die inwoners van Negester te skep. So kan alle inligting wat betrekking het op die Negesterlandgoed en sy mense op een databasis beskikbaar gestel word. Dit moet, byvoorbeeld, nie nodig te wees vir nuwe inwoners om rond te skarrel vir inligting oor water, elektrisiteit, toegangsbeheer, ens. nie aangesien al die inligting op die webtuite beskikbaar is. 

Daar is in die middel van Januarie 2019 begin werk aan die ontwerp, uitleg en ontwikkeling van die Negester Klein-Kariba webtuiste met die oog om dit teen die einde van Maart 2019 te publiseer.

Inwoners word versoek om alle inligting of interessante gebeurtenisse, artikels, foto’s, nuusbrokkies, geskrifte, ens., na Angus toe te stuur sodat dit op die webtuiste gelaai kan word.

Terug na “Kommunikasie”

Close Menu